Geskiedenis

Hoërskool Louis Trichardt het sy deure geopen op 15 Januarie 1946, met Mnr. S.M.N. Bronn as hoof. Met minder as 100 leerders en 19 personeellede het die aanvanklike Triegie-span sy oorsprong gevind. Triegies het van krag tot krag gegaan met die leuse “WAAK EN WERK”, aan die voet van die Zoutpansberge. Ons huidige hoof, Meneer Theo Muller, bestuur die skool uitnemend, in samewerking met ‘n uitstekende bestuursliggaam onder leiding van Mnr Quentin Thompson. Hoërskool Louis Trichardt is ‘n waardegedrewe skool waar elke leerling deel word van ons Triegie-familie. Eenmaal ‘n Triegie – Altyd ‘n Triegie!

eerste personeel van hoërskool louis trichardt 1946

WAAK EN WERK” (Uittreksel uit die jaarblad van 1946):
Die leuse van ‘n skool is die uitdrukking van sy hoogste ideaal. Hierdie leuse is die krag wat rigting gee aan die inwendige groei en ontwikkeling. Dit vertolk eweneens die eksterne doelstellings van die skoollewe en vorm dus ‘n advertensiebord waardeur die doel, die strewe, en die prestasies van ‘n skool bekendgemaak word. Hoërskool Louis Trichardt, en dus die Soutpansbergse Hoërskool, het onlangs ‘n voldonge feit geword. Soutpansbergers is trots op hulle skool. 

Dit is voldoende bewys deur die groot belangstelling wat oral in die distrik getoon word, vanaf die Limpopo tot “agter die berg tot verder vorentoe”. Die Hoërskool stel hom tot diens van die volk en sal waak oor die tradisies waarop ons ons ideale bou. Soos Hanglip oor die Soutpansberg heers en wag oor die Noordelike boswêreld en Suidelike vlaktes, sal die Hoërskool aspireer om ‘n wakende oog te hou oor sy leerlinge. 

Ons durf nie net ons oë op Hanglip te vestig nie, want dan sal ons struikel oor hindernisse wat ons in die onmiddellike nabyheid nie raak sien nie. Ons sal werk om hierdie hindernisse te oorkom, ons sal strewe na karaktervastheid, na verstandelike, geestelike en liggaamlike ontwikkeling. 

Ons glo, soos die ou Romeine, in die leuse: “Mens sana in corpore sano” (‘n Gesonde gees in ‘n gesonde liggaam). Die Bybel sal ook dien as gids vir ons hede en ons toekoms. Ons sal waak en werk.

Scroll to Top