Dissipline
Visie
Ons strewe daarna om as skool ‘n suksesvolle onderriggeleentheid aan leerders van ons gemeenskap te bied
Missie
Hoërskool Louis Trichardt is ‘n Christelike, waardegedrewe skool met ‘n tradisie van leerders se deelname, uitnemende prestasie en ‘n betrokke ouergemeenskap.
Waardes
- Geloof
- Respek (leef en laat leef)
- Betroubaarheid
- Regverdigheid
- Verantwoordelikheid
- Eerlikheid
- Omgee
- Volharding
Leerders
By Hoërskool Louis Trichardt is dit ons doel en strewe om leerders só op te voed en te onderrig dat hulle eendag as volwaardige burgers hul plek in die samelewing sal volstaan, hetsy op Christelike, nasionale, kulturele, ekonomiese of sosiale gebied. Elke kind is vir ons belangrik, daarom word gepoog om in elkeen se besondere behoeftes te voorsien.
Ouergemeenskap
Ons heg besondere waarde aan samewerking met ons ouergemeenskap. Ons vennootskap berus op gesamentlike trots wees op die gebruike en tradisies van die skool, asook ‘n verbintenis tot die instandhouding daarvan.
Onderrigkorps
Leerkragte is verbind tot die uitleef van hul onderwysroeping met professionele integriteit. Leerkragte word aangemoedig om professioneel te groei en tot die volle verwesenliking van hul onderwyspotensiaal te ontwikkel.
Departement van Onderwys
Leerkragte is verbind tot die uitleef van hul onderwysroeping met professionele integriteit. Leerkragte word aangemoedig om professioneel te groei en tot die volle verwesenliking van hul onderwyspotensiaal te ontwikkel.
Etiese kode
Hoërskool Louis Trichardt verwag gedissiplineerde optrede van alle betrokkenes om ‘n veilige en opvoedkundige omgewing vir beide leerders en leerkragte te verseker.
Gedissiplineerde gedrag word verwag en is die verantwoordelikheid van
- die skoolhoof;
- elke personeellid;
- LUK lede;
- elke individuele leerder; en
- die ouers.
Hoërskool Louis Trichardt onderskryf die daarstel van demokratiese en dinamiese onderwys wat enige vorm van rassisme of seksisme ten sterkste afkeur. Die beheerliggaam en skoolbestuur oefen ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 hul regsplig uit om die regte van leerders, leerkragte, en ouers te verseker, asook die verantwoordelikhede van elk uit te spel.
Leerkragte se verantwoordelikhede
- Tree professioneel teenoor mede-leerkragte, leerders en ouers op.
- Respekteer leerders en tree nie humeurig of in woede op nie.
- Onderskryf die toepassing van die beste belang van leerdersmaatstaf soos vervat in die Grondwet van Suid-Afrika.
Leerders se verantwoordelikhede
- Eerbiedig en onderwerp hul aan die skool se gedragskode.
- Gehoorsaam die instruksies van personeel, senior leerders en volwassenes.
- Tree verantwoordelik op en koester die veiligheid en regte van ander.
- Respekteer die eiendom van die skool en ander.
- Wees eerlik en tree met integriteit op.
- Wees altyd betyds en stiptelik.
- Respekteer die privaatheid van ander asook hul besittings.
- Aanvaar dissiplinêre optrede wanneer dit geregverdig is.
Ouers se verantwoordelikhede
- Aanvaar die skool se gedragskode.
- Ondersteun die skool en personeel in die opvoeding van hul kinders, met inbegrip van die toepassing van die gedragskode.
- Ondersteun die dissiplinêre strukture en prosedures van die skool.
- Verseker dat leerders die skoolreëls en gedragskode verstaan en eerbiedig.
- Verseker dat leerders tuiswerk en opdragte pligsgetrou voltooi.
- Beskerm die goeie beeld en naam van die skool by die gemeenskap en by leerders.
‘n Ware Triegie
- Respekteer sy/haar Skepper en ander mense.
- Het goeie maniere, integriteit, en tree beleefd op.
- Is trots op sy/haar voorkoms en neem trots in sy/haar omgewing.
- Besef die erns van die akademie en voltooiing van tuiswerk.
- Neem aktief en met ‘n goeie gesindheid deel aan skoolaktiwiteite.
- Doen niks wat die goeie naam van Hoërskool Louis Trichardt in gedrang bring nie.